Joune
Sorrie
deur: handyandy.art
Ek was die ou wat die middelste cubicle gebruik het
15-02-2019
Argitektuur
deur: handyandy.art
Mag, op jou, sonneblomme val
Vanuit ‘n goue hemel
Getroon met geboue van Gaudi
Daai plek waar ek nooit sal kan wees
Mag ek ‘n sonneblom wees
Wat vanuit daai goue hemel val
Om jou ligtelik te kan raak met die afkom slag
‘n Wens
Dis jy
In jou, om jou, naby jou
‘n Wens
Dis jy
Miskien ‘n illusie
Te goed om waar te wees
Ek lieg
Die sonneblom het reeds hand uit gesteek
Haar omgedraai na die son
En ek, die maan, die nag kom saai
Toe ek, te laat, hand uit steek vir die laaste
Lig, van die goue uur.
20-01-2019
Hemelsbreed
deur: handyandy.art
Wat ons is, is hemelsbreed
Jy die Hoofletter en ek die punt.
Amper so breed
Die uitgestrekte teer tussen
Die Kaap en Stellenbosch
Miljoene klippe elk vasgevang in die swart
Die wit lyne lei my na jou
En hier op die wit van gedrukte denne
probeer ek die miljoene klippe tussen ons in ink naboots
Ek probeer, maar dit ontbreek my
Woorde
Dis hier in die lugblou poele van jou oë, met die swart belynde miljoene klippe daarom
Waar ek weer tuis kom
Want dit ontbreek my
Die woorde, die lyne om jou na jou te lei.
24-01-2019
Vol vere
deur: handyandy.art
Vandag, wou ek vlieg
Toe pluk hulle my vere
En vleg dit deur my tande
Sou ek dan praat
dat een-een my tande vlug sou slaan
En my tong skaamteloos begin wegkruip
Nou sit ek met ‘n bek vol vere
En voel vere
Want my tong lippe-die-dip en my vlerkies klippe-die-klap
Die ou nostalgiese herinnering van onthou -
die hoe-hoe?
die so-só
Kyk
Sit jou oor teen my oor
En luister na die tjirr van
voëls wat vlerkklap
Om die essensie van jou
nakende skoonheid te
Verwoord.
05-02-2019
Orait
deur: handyandy.art
laasnag het ek die aux kabel
Teen my hart gedruk
Die geklop is weg
spoegwurms neem oor
Die wegraping van rooi en wit bloedselle
Nou, vir die larwes, mot en gog — kom leef in my kuwe
En klap die vlerk
Om asem te haal
Die lied wat ek nie ken
Orait, ek hoop ‘n hemel wag op my
04-09-2019
Oervrees
deur: handyandy.art
Dis die Witvrees wat gil in die nag
Om tienuur gil Sy die alveoli uit haar longe
Om te verval in die nagwaak
Oop oë op haar rug in bekommernis vir die dag van môre
In die oggend pluk die Witvrees haar borste uit hul nate
Om die laaste witmelk vir haar kinders voor te sit
oombliklik word sy weer aap, oermens -vrou
Die wete dat die wiskunde van die lewe gelyk is aan die somtotaal van die uiterstes
Maar teen laatmiddag wanneer die wit en rooi ophou drup het
Wanneer haar oë slegs wit albasters in hulle garingsakkies is
Dan word sy die moderne vrou
Die gee ‘n fok, maak skuld en lig jou vuiste vir die môre op.
19-02-2019
Die ding
deur: handyandy.art
Ek verval in clichés
Die ding van blomme koop wat sal dooi
Die ding van pienk Steri-Stumpies koop wat sal
opraak
Winter groet en bladskud met Lente
Sodat Somer my kan belas met Desember
Die ding van blomme en Steri-Stumpies en seisoene
Is dat hulle sing van hergeboortes
Harmonieë skep
Sonder ophou
En my clichés sing
Vir die liefde wat jy is
Onophoudend
29-01-2019
Inside Joke
deur: handyandy.art
Ek kort nie ‘n Jeniffer Arniston
Ek kort dagdronk oomblikke
Die diepte van jou oë
Waarin berge versteek die illusie
Van jou
Die 30 Seconds om te weet jy
Is die begin en die einde
16-01-2019
Naguile
deur: handyandy.art
Ons is gemaak vir die nag
Die ek en die jy
Naguile wat nek omdraai na
Ontelbare gloeilampe wat val
Deur die swart laken wat ritmies dans op die maat van die wind
En ons beskut
18-01-2019