Joune

My geliefde as ‘n wolf

deur: jennybl3u
Jy is gebore in die jaar van die hond klein en fragiel sonder tand of klou met ‘n donker pels sag sag soos skaapwol jou ma maak jou groot op couscous en pap slyp jou tande op tarentaalbene sus jou met rock musiek en babataal later groei jou hare krul en jou lyf lank en jy blink uit in tennis en skaak terwyl jy bloei na skool loop jy weg van die huis en hardloop saam met die wolwe heelnag hap jy na woorde om te kou met jou tande wat skerp skerp word jou ore is satelliete in jou dertigs sit jy ernstig en mooi in die koffiewinkel op die hoek ek bedien jou met my woke T-shirt ek is jou twaalfde slagoffer ons lê nakend in die nag in jou woonstel se slaapkamer wat uitkyk oor die park met beelde van lewensgroot neste en Cecil John Rhodes en stry oor geweldadige kinders wat haweloos langs die fietsrakke lê op kartonbokse en sement en haal frases aan van Audre Lorde en die ysprinses in Frozen vroegoggend skeur skeur jy my oop om woorde wat ek gesteel het te vind en aan die wêreld uit te basuin.

03-08-2018